Intensiteit, deernis tref hom meeste, sê skrywer

http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/2006/10/07/B1/6/tnjrabble.html
Beeld
Neels Jackson
7 October 2006

‘n Passievolle intensiteit in sy verbintenis tot belangrike kwessies, saam met ‘n diep deernis vir mense.

Dít is die eienskappe van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu wat deur John Allen, sy biograaf, uitgesonder word as dít wat die grootste indruk op hom gemaak het.

En Allen behoort te weet.

Hy was immers 13 jaar lank die emeritus aartsbiskop, wat vandag 75 jaar oud word, se regterhand.

Volgens Allen was dit nie sommer net ‘n werk nie. Tutu het nie onderskeid gemaak tussen sy werk en private lewe nie. Sy hele lewe het opgegaan in sy roeping.

Vir Allen het dit beteken dat hy heeltemal opgeslurp is deur sy werk vir Tutu.

Hy het daarvan gehou dat Tutu eg was. Selfs voor hy vir hom gewerk het, toe hy hom nog as joernalis gevolg het, het hy die indruk gekry dat jy die regte Tutu ook in sy openbare optrede sien.

Allen verwys na die passievolle intensiteit waarmee Tutu dinge gedoen het.

Hy sou nie stilbly nie, maak nie saak wat die gevolge was nie.

Dit het egter nooit deernis met mense oorwoeker nie.

Allen vertel dat Tutu by die destydse pres. F.W. de Klerk gepleit het dat hy om verskoning moet vra vir die boosheid van apartheid. Toe De Klerk later wel met ‘n verskoning vorendag kom, het baie gedink dit was te min en te laat, maar Tutu het dit aanvaar.

Dis met dié akkommoderende gesindheid dat hy me. Winnie Mandela by die Waarheid-en-versoeningskommissie gehanteer het.

Omdat hy Tutu so goed ken, vertel Allen, was dit nie nodig om eindelose onderhoude met die emeritus aartsbiskop te voer om Rabble-rouser for peace, die biografie, te skryf nie. Nadat hy die eerste konsep neergepen het, kon hulle net ‘n klompie gate invul.

Allen sê die titel van die boek kom eintlik van me. Albertina Sisulu af. Sy het vir Tutu ‘n “rabble-rouser” genoem.

Oor die voorbladfoto van Tutu in sy pienk biskopsgewaad agter ‘n mikrofoon, oopmond, woes aan die beduie en boonop met ‘n “sinistere donkerbril” op, het die aartsbiskop opgemerk dat die ou SAUK (wat hom dikwels in ‘n negatiewe lig uitgebeeld het) sou sukkel om beter te doen. Toe Allen die foto verdedig, was Tutu se reaksie dat hy nie kapsie maak daarteen nie.

Die biografie is vandeesweek in Johannesburg bekend gestel.